LEWER 24 VRUGTEKOEKMUFFINS
Bereiding: 20-25 minute
Gaarmaaktyd: 4 minute per
6 op hoog
Sue Reader het al in 2005 vir ons dié trefferresep vir ’n mikrogolf-vrugtekoek gestuur.
Ons het dit in muffinpannetjies gebak – dan kos dit jou net 4 minute om ’n baksel van 6 te maak. Sue sê sy gebruik 2 bakke, elk 18 cm in deursnee en 6 cm diep. Sy voer elk met handdoekpapier uit en bak dit 18 minute op mediumhoog.
Onthou om dit op ’n omgekeerde bord in die oond te plaas.
500 g droëvrugtekoekmengsel
250 g dadels, fyn gekap
250 ml (1 k) sagte bruinsuiker
150 g botter, sag
250 ml (1 k) warm water
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
500 ml (2 k) bruismeel
5 ml (1 t) gemengde speserye
1 ml (¼ t) sout
3 ekstragroot eiers, geklits
150 ml brandewyn
250 ml (1 k) gemengde neute, grof gekap
100 g glanskersies, grof gekap
versiersuiker vir afronding
- Plaas die vrugtekoekmengsel, dadels, suiker, botter, water en kakao in ’n mikrogolfoondbak en plaas dit 4 minute in die mikrogolfoond. Roer goed en mikrogolf nog 4 minute.
- Roer die koeksoda by en laat afkoel.
- Sif die meel, gemengde speserye en sout en vou by die mengsel. Roer die eiers, brandewyn, neute en kersies by en skep die holtes van gespuite silikon-muffinpannetjies driekwart vol.
- Bak 4 minute op ’n slag op hoog. Herhaal met die res van die beslag. Stuif die versiersuiker oor.